Gr.9-sertifikaat van die baan
Opgeskort omdat 'niks vir leerlinge beteken nie'
deur Alet Rademeyer
(Februarie 2006)


Die skoolverlatingsertifikaat vir gr. 9's wat 'n paar jaar gelede met groot fanfare aangekondig is, is vir eers van die baan.

Mnr. Duncan Hindle, direkteurgeneraal van onderwys, het gister gesê hoërskole moet vir eers voortgaan soos in die verlede en net rapporte aan die einde van dié skooljaar uitreik.

Skole sal egter steeds die gemeenskaplike take vir assessering (GTA-eksamens) aan die einde van die jaar aflê. Dit het verlede jaar tot chaos by talle skole gelei wat dié vraestelle baie laat van die provinsiale departemente gekry het.

Die doel van die omstrede algemene onderwys- en opleidingsertifikaat (GET) was aanvanklik om leerlinge wat skool aan die einde van gr. 9 wil verlaat, met 'n sertifikaat toe te rus waarmee hulle kon gaan werk soek of by kolleges vir voortgesette onderwys en opleiding kon uitkom.

Me. Naledi Pandor, minister van onderwys, het verlede week in Kaapstad gesê die noodsaaklikheid van die sertifikaat word heroorweeg omdat tot 88% van leerlinge tot in matriek in die skool bly. Daarby is leerlinge se keuses vir verdere studie ná gr. 9 steeds te beperk. Mnr. Johan Wagenaar, hoof van die Hoër Tegniese Skool John Vorster in Pretoria, het gesê die sertifikaat is waarskynlik opgeskort omdat dit niks vir leerlinge beteken nie.

Boonop keer die meeste van hulle ná gr. 9 maar weer terug skool toe.

Mnr. Frans Malan, hoof van die Hoërskool F.H. Odendaal, het gesê dit is te betwyfel of die sertifikaat soveel vir leerlinge sou kon beteken.

"Die werklikheid is dat hulle met 'n gewone skoolverklaring van prestasie ook by kolleges inkom."

Ingevolge aanvanklike planne van die onderwysdepartement moes die eerste groep gr. 9-leerlinge dié sertifikate reeds in 2002 verwerf het.

Dr. Chris Kotze, hoof van die Hoërskool Die Burger aan die Wes-Rand, het gesê dié sertifikaat is nóg 'n voorbeeld van iets wat in die onderwysdepartement uitgedink is en uiteindelik geblyk het nie werkbaar is nie.